VOëLS VAN DIE HEMEL

Hy was ’n doodgewone jong man van bykans dertig jaar. Of miskien was hy nie so doodgewoon nie. Hy het net so gelyk. Medium lengte, krullerige bruin hare, skoon geskeer en geklee in klere wat in die meeste manswinkels te koop was. Sy liggaamsbou het na skraal geneig eerder as gespierd. Min mense het sy doopnaam geken en almal het hom maar op die bynaam, Chippie, aangespreek. Dié naam het hy gekry omdat hy eerder met rekenaarchips besig was en in die binnegoed van elektroniese goeters rond gekrap het, as om mense se geselskap op te soek.
Chippie was ook lief vir die natuur en het gereeld berg geklim of lang afstande langs die see gaan stap. Hy het verkies om dit alleen te doen, sodat hy so veel as moontlik kon waarneem en bestudeer. Hoewel hy nie ’n bleeksiel in die ware sin van die word was nie, het hy tog ’n meestersgraad in elektroniese ingenieurswese gehad. Sy daaglikse brood het hy verdien as navorser in die een of ander instituut wat met nuwe uitvindings gemoeid was.
Sy liefde vir die natuur was meer spesifiek gesentreer rondom voëls. Alle soorte voëls, klein en groot. Dié liefde is reeds kleintyd by hom gekweek deur dat daar in sy ouers se boomryke dorpstuin altyd water- en voerbakke vir die voëls se gerief was. By daardie bakke het hy eers die kleiner spesies van die geveerde volke leer ken. So was daar die Kwikstertjie, die Janfiskaal, die Tiptol, die Janfrederik, vinke, mossies, tortelduiwe, kraalogies, jangroentjies en nog baie ander soorte.
Die groter spesies het hy later in sy lewe in die veld, in die berge en langs die see leer ken. Daar was die verskillende tipes roofvoëls, soos die valke, arende en kraaie, wat vleiseters is. Die graan eters was die bosduiwe, tarentale, fisante, patryse, en bloukraanvoëls. Onder die viseters was daar die seemeeue, albatrosse, trekduikers, swarttobies en baie meer.
Reeds as jong seun het hy met ’n klankopnemer die verskillende voëls se sang en ander geluide op band vasgelê. As student het hy met die opgeneemde geluide in universiteit die se klank laboratoriums geëksperimenteer. Hy het ondermeer sy eie apparaatjies gebou om voëlgesang, parings taal en waarskuwings roepe se volume en frekwensies te verander om ’n groter verskeidenheid variasies te verkry. Toe hy later as navorser begin werk het, was daar nog meer geleentheid om met uiters gesofistikeerde elektroniese en digitale toerusting die taal van die voëls verder te verfyn en te bestudeer.
Hy het mettertyd sy eie toestelle gebou en in sy rugsak verpak om dit op sy uitstappies in die natuur saam te neem. Daar het hy dit verder beproef en daarmee geëksperimenteer. So kon hy naderhand met ultra sensitiewe send- en ontvangapparaat voëlgeluide oor groot afstande opvang en weer na dieselfde voëls terugkaats. Hy kon op dié wyse as het ware met die verskillende voëls in gesprek tree.
Daar was natuurlik nie sprake van volle sinne in dié gesprekke nie. Dit was slegs beperk tot een of twee woorde op ’n keer. Daar sou byvoorbeeld slegs een woord vir ’n waarskuwing wees, soos vuur, mens, slang! Slegs twee woorde sou gebruik word as dit ’n ernstige waarskuwing was wat herhaal word, soos vuur, vuur! Hy het ook gevind dat sy navorsing beter resultate lewer as hy dit spesifiek op die groter voëlsoorte toespits. Die kleiner geveerde spesies se geluide was te fyn en delikaat om oor noemenswaardige afstande op te vang en terug te kaats.
Hy het sy navorsing nog verder verfyn deur simbole en letters aan die verskillende geluide en uitroepe te koppel. Dieselfde voëlsoort het byvoorbeeld verskillende waarskuwings roepe vir verskillende situasies gehad. Ook was daar verskillende voëlgesange vir die verskillende jaargetye en vir verskillende weersomstandighede. Hy het gereeld langs die see gaan stap en dit was dus logies dat hy eerste met ’n taal alfabet van die seevoëls sou begin. Dit was ’n enorme taak en hy het elke minuut van sy vrye tyd daarvoor nodig gehad.
Chippie se sosiale lewe was beperk tot amptelike funksies van sy werkgewer, wat hy verplig was om by te woon. Alle ander uitnodigings is van die hand gewys. Hy het letterlik geskitter in sy aanwesigheid by geleenthede soos musiek- en kunstefeeste, sportbyeenkomste en die teater. Sy algehele terugtrekking in homself het nie ongemerk verbygegaan nie en mense het al meer vrae daaroor gevra. Wat hulle die graagste sou wou weet, was hoe en waarmee hy hom besig hou? Hierdie ongevraagde belangstelling was juis wat Chippie nie wou gehad het nie.
As navorser moes hy by indiensneming ’n kontrak onderteken dat alle uitvindings wat hy gedurende sy dienstermyn sou maak, die Instituut se eiendom sou word. Dit was dus logies dat Chippie nie wou hê dat sy kollegas en werkgewer van sy voël-navorsing moes weet nie. Dit was sy persoonlike stokperdjie en passie in die lewe en vir hom ondenkbaar dat ander mense ’n aandeel daaraan moes hê. Wanneer hy dus met sy navorsing in die buitelug besig was, het hy seker gemaak dat dit op eensame en moeilik bereikbare plekke was. Plekke waar hy nie maklik bespied of verras kon word nie. By sulke plekke moes daar egter voldoende voëllewe wees, anders was daar nie proefkonyne op wie hy sy tegnologie kon uittoets nie.
Met verloop van tyd het Chippie sy taal-alfabet ook na die landvoëls, soos arende, kraaie, tarentale, hadidas en bloukraanvoëls uitgebrei. Hulle het wel nie uit die see gelewe nie, maar het ook langs die kuslyn voorgekom. Hy het met verloop van tyd en met volgehoue en intensiewe werk al meer sukses behaal. So kon hy met die verskillende voëls begin kommunikeer deur op verskillende frekwensies woord seine na hulle te kaats en hulle reaksies via sy sensitiewe ontvangstoestel op sy oorfone terug te ontvang.
Hy was natuurlik in ekstase oor die fantastiese deurbrake met sy navorsing. Maar aan die ander kant het hy ’n groeiende gevoel van ongemak daaroor ervaar. Die feit dat die mens met die voëls van die hemel in hulle eie taal kon praat, was ’n ernstige aantasting van die natuur se wette. Was dit eties reg dat hy dit doen? En sê nou maar die tegnologie, wat hy ontwikkel het, val in die verkeerde hande? Gewetenlose mense kon die voëls so manipuleer dat hulle dinge doen wat nie volgens hulle natuurlike aard en instinkte is nie.
Die voëls kon byvoorbeeld beveel word om sekere vlieënde en kruipende diere en insekte aan te val en uit te roei. Hulle kon ook subtiel beïnvloed word om op sommige van hulle eie spesies jag te maak en te illumineer. Deur sulke optredes kon die ekologie ernstig geknou en beskadig word tot benadeling van die hele skepping! Hulle kon ook die voëls gebruik vir die pleeg van misdaad, soos om op privaat individue of openbare instellings te spioeneer. Die moontlikhede was onbeperk en die gevolge skrikwekkend groot!
Chippie het onwillekeurig gedink aan die splitsing van die atoom en die verdere ontwikkeling van die kernwetenskap wat daarop gevolg het. Baie van die nagevolge daarvan was weersinwekkend en afgryslik vir die mensdom! Die besef van die verdoemende verantwoordelikheid wat hy homself op die hals gehaal het, wou telkens sy keel van benoudheid laat toetrek. Hy het al meer besef hoe belangrik die veiligheid en sekuriteit rondom sy elektroniese toestelle was. Die gewenste veiligheidsmaatreëls moes te alle tye in plek wees. So het hy sy formules, rekenaardata en apparatuur in sy privaat brandkluis weggesluit en hy alleen het die kode daarvan geken.
Dié inhoud van die kluis het hy slegs uitgehaal wanneer hy ná werkure op die verlate paadjies langs die see met die voëls gaan gesels het. Toe hy op ’n dag vanaf so ’n uitstappie teruggekeer het, was daar by sy woonstel ingebreek en alles was deurmekaar gekrap en op die vloere rondgestrooi. Hy was redelik geskok, maar nie uitermate verbaas nie, omdat hy dit so half en half verwag het. Die inbrekers het egter nie die ingeboude brandkluis agter ’n skildery ontdek nie. Al sou hulle dit wel ook gestroop het, was daar weinig waarde uit te put, want die belangrikste tegnologie was saam met hom in sy rugsak gewees.
Daar was niks van sy gewone besittings gesteel nie. Dit het hom oortuig dat hulle slegs na sy bloudrukke en toestelle opsoek kon gewees het. Hy het daardie nag lank wakker gelê en met allerhande vrae geworstel. As hulle nie in enige van sy besittings belanggestel het nie, was hulle nie gewone diewe nie. Hoe het hierdie besondere skurke dan enigsins vermoed dat daar dalk iets unieks bestaan en hoe het hulle geweet waarna om te soek?
Die verdere tergende vraag was oor die identiteit van die inbrekers. Was dit persone in diens van sy werkgewer of dalk buitestanders, wat op eie inisiatief en vir eie gewin optree? Die eerste moontlikheid kon hy nog verstaan, weens die kontraktuele verpligting wat werknemers oor nuwe uitvindings verbind het. Die tweede moontlikheid sou aan die misterieuse grens, want mense buite sy werkkring het baie min of niks van sy doen en late geweet nie.
Chippie was egter nie bekommerd oor sy eie veiligheid nie. Wie ook al sy uitvinding in die hande wou kry, sou niks daarmee kon doen as hy dit nie self eers verduidelik en gedemonstreer het nie. ’n Onaangename gedagte was egter dat hy met gewelddadige en wrede metodes gedwing kon word om die tegnologie uiteen te sit. Hoe meer hy daaroor gedink het, hoe meer het hy besef dat hy homself in ’n hoek vas geverf het. Sy uitvinding kon nie tot voordeel van die mensdom aangewend word nie en het slegs ’n bedreiging vir sy eie veiligheid ingehou. Hoekom sou hy dus groot moeite en koste aangaan om iets te beskerm wat onbruikbaar en gevaarlik was?
Eintlik het hy baie goed geweet wat die antwoord op al dié vrae was! Hy moes naamlik sy navorsing dadelik staak en al die bestaande rekords en apparatuur so gou moontlik vernietig. Die versoeking was egter net te groot om vir nog ’n rukkie in die onbekende waters van die natuur se wette en geheimenisse te swem. En so bevind hy hom die daaropvolgende Saterdag weer langs die see om met die voëls van die hemel te gesels. Die staanplek wat hy uitgesoek het, was bo-op hoë rotse met die see aan die eenkant en sandduine en inheemse bosse aan die ander kant. Hy het eers sy apparate opgestel en getoets en toe begin om seine uit te stuur na die voëls wat daardie oggend in sy onmiddellike omgewing was.
Hy het egter gou agtergekom dat dinge nie heeltemal pluis was nie. Hoewel dit ’n helder sonnige oggend was, was daar besonder min voëls te sien. Slegs ’n hand vol seemeeue het oor die branders gesweef en twee groot swart rug albatrosse het ’n end weg op rotspunte gesit. Ook was geeneen van hierdie geveerdes baie spraaksaam nie en het besonder traag op Chippie se seine gereageer. Hy het bykans sy hele voël-woordeskat uitgeput voor hy ’n stukkie inligting uit die seemeeue kon kry. Daar was vreemdelinge in die onmiddellike omgewing, het hulle laat weet. Koue rillings het deur Chippie se lyf getrek! Was dit die boewe wat agter sy elektroniese uitvindings aan was?
Hy het van sy lug bespieders probeer uitvind waar die indringers presies was. Die seemeeue het of nie verstaan wat hy wou weet nie of het nie geweet hoe om te verduidelik nie. Heel verrassend het daar egter seine van die albatrosse deurgekom. Hulle het intussen ook ongemerk die lugruim in gesweef en het op ’n hoogte van vyftig meter ’n baie beter uitsig as die seemeeue gehad. Die mense was aan die son se kant, het hulle laat weet. Dit het vir Chippie noord-oos beteken, wat die dieselfde rigting was as waarvandaan hy gekom het. Hulle het hom dus deurentyd agtervolg sonder dat hy dit agtergekom het! Dit het hom benoud laat besef hoe professioneel en gevaarlik hierdie gesiglose agtervolgers was.
Sy volgende vraag was oor hoeveel persone daar was. Die voëls het egter nie die vermoë gehad om met rekenkundige getalle te werk nie. Die antwoord was dus slegs dat dit meer as een mens was. Hy het toe sy eie verkyker gebruik om die sandduine, bosse en ruwe rotse stelselmatig te fynkam. Daar was egter nie ’n teken van ’n lewende wese nie. Sy heil het dus maar weer by die voëls gelê.
Hy wou by die albatrosse weet of die mense op iets ry? Die antwoord was nee. Toe wou hy weet of hulle net op een plek bly. Die antwoord was weer nee. Op sy vraag of hulle dan besig was om met hulle voete te loop, was die antwoord bevestigend. Hulle was dus besig om stelselmatig op hom in te beweeg vir die finale konfrontasie. Hy kon maar net raai wat dit moontlik sou behels. Hy het geen bruikbare wapen van enige aard by hom gehad nie. Sy redding het dus slegs in twee bondgenote gelê, sy intieme kennis van die terrein en die hulp van die voëls van die hemel.
Chippie se eerste maneuver was dus om nog hoër op tussen die rotsformasies in te beweeg. Daar het hy ’n posisie gekies waar hy ’n styl klipwand as beskutting aan die westekant sou hê. Aan die suidekant was loodregte kranse meer as vyf tien meter bokant die see en aan die noordekant was daar ondeurdringbare bosse op die sandduine. Enige bedreiging kon hom dus slegs vanaf die oostekant nader. Daardie toegang was egter baie steil na bo en kon wel beskerm word deur groot los klippe op enige indringers af te rol.
Die volgende verdedigingsmiddel was sy geveerde lugmag wat hom moes bystaan. Hoe presies het hy nie juis geweet nie. Nadat hy sy toerusting her opgestel het, het hy sy aandag weer na die lugruim gewend. Groot was sy verbasing om te sien dat daar in ’n kort tydjie aansienlik meer voëls in die hemelruim bygekom het. Daar was baie meer seemeeue en ook ’n hand vol bykomende albatrosse. Al dié voëls het op verskillende hoogtes bokant die onmiddellike omgewing gesirkel. Chippie het ook vir die eerste keer opgemerk dat daar ver bokant al die seevoëls twee arende soos stippels in die blou lug gesweef het. Verder het hy tot sy uiterste verbasing ’n swartkraai ongeveer vyftig meter vêrder op ’n rotspunt sien sit. Hoe meer hy rondgekyk het, hoë meer kraaie het hy ook op ander uitkykpunte gesien.
Hierdie kraaie was genadelose krygsvoëls wat soms in verwoede luggevegte met die albatrosse betrokke was. Hulle het laasgenoemdes se eiers uit hulle neste probeer roof en is dan met mag en snawel afgeweer en verjaag. Die kraaie se verskyning was vir Chippie dus ’n baie teleurstellende verwikkeling. Hy het in sy uur van benoudheid die seevoëls se hulp bitter nodig gehad en dit sou fataal wees as die kraaie sy bondgenote se aandag kom aftrek.
Hy het die situasie probeer beredder deur sy kommunikasie seine op die kraaie te rig. Hy wou van hulle weet wat hulle daar gesoek het. Tot sy verbasing was die antwoord dat hulle van die vyandige vreemdelinge gehoor en self kom kyk het. Op sy verdere vraag hoe hulle weet dat die indringers vyandig was, het die kraaie gesê dat die mense vuur en donder by hulle gehad het. Chippie het eers nie verstaan wat hulle bedoel nie. Die kraaie het toe verduidelik dat van hulle familie al voorheen deur dié vuur en donder dood gepik is.
Die agtervolgers was dus met vuurwapens toegerus! Chippie het benoud sy verkyker opgeraap en weer die duine en bosse bespied, maar steeds was daar nêrens enige beweging te sien nie. Hy het amper die verkyker van skrik laat val toe sy selfoon skielik skel begin lui het. Die nommer op die skermpie was onbekend en hy het besluit om dit nie te antwoord nie. Ná ’n rukkie het dit opgehou lui en kort daarná het ’n SMS op die selfoon deurgekom. Hy het verskrik na die bewoording gestaar.
“Ons weet jy's daar. Antwoord jou foon!”
Hy het besluit om met ’n SMS te reageer.
“Wie is julle en wat wil julle hê?”
Hulle antwoord het hom laat verstar.
“Die bloudruk van P13.”
Dit was die kode naam van die lugvaartnavorsing waarmee hy by die Instituut besig was. Ter wille van vertroulikheid en sekuriteit was die standaard prosedure dat sulke projekte deur twee navorsers gedoen word. Elkeen werk aan ’n verskillende onderdeel van die taak, sodat ’n enkel persoon nie alles weet en met geheime inligting kan spore maak nie. Chippie was aan die eenkant geweldig verlig dat die bedreiging niks met sy persoonlike voëlprojek te doen gehad het nie. Wat hom egter totaal dronkgeslaan het, was dat vreemdelinge van die hoogs geheime P13 geweet het.
“Ek het slegs ’n gedeelte van die meesterplan. Dit sal niks vir julle beteken nie,” het hy geantwoord.
“Ons weet. Ons het reeds jou kollega se data bekom.”
Chippie het versteen met die selfoon in sy hand bly sit. Sy kollega, Charlie, sou nooit sulke geheime data, selfs vir vergoeding, aan buitestaanders oorhandig nie. So, waar is Charlie? Het hulle hom ontvoer, of nog erger, dalk vir goed stilgemaak?! Hy het Charlie se privaat selnommer geskakel, maar geen antwoord gekry nie.
Sy eerste gedagte was om die Instituut se sekerheidsafdeling te skakel vir hulp. Hy kon hulle die presiese koördinate van sy ligging gee en hulle sou in minder as ’n halfuur daar wees. Chippie het egter dadelik besef dat dit net ander probleme vir hom sou skep. Hy sou die bestaan van sy uitvinding moes verduidelik en dit aan die Instituut moes oorhandig. Hy sou ook ontslag in die gesig staar weens sy kontrak breek.
Met bewende hande het hy sy selfoon in sy sak weggesit, sodat hy op sy eie beskerming kon konsentreer. Hy moes ten alle koste die Instituut se navorsingsdata uit die vreemdelinge se hande hou. Daarsonder sou Charlie se inligting niks vir hulle beteken nie.
Hy het ’n vinnige evaluasie van die voëls se posisies gemaak. Die seemeeue het belangstelling in hom en sy agtervolgers verloor en hulle slegs toegespits op die skulpdiertjies, wat die hooggety op die strand uitgespoel het. Die kraaie se getalle het wesenlik aangegroei. Sommige het steeds op strategiese rotspunte gesit en die ander het lui-lui in sirkels bokant die sandduine gesweef. Hulle het ongetwyfeld die skurke dopgehou. Die albatrosse het heelwat hoër as die kraaie gesirkel, maar meer na die rotse en see se kant toe. Nog baie hoër op in die blou lug was daar steeds die stippels van die arende wat hy vroeër al gesien het.
Terwyl hy nog gewonder het hoë hy sy geveerde vriende kan mobiliseer in die stryd, het die vyand die eerste skuif gemaak. ’n Stuk van die rots bokant sy kop het onverwags met ’n harde klapgeluid gedisintegreer. Sekondes daarna het die donderslag van ’n swaar kaliber geweer uit die rigting van die bosse opgeklink. Chippie het geskok op die grond platgeval en met bewende hande sy verkyker vasgeklem. Hy kon egter steeds niks sien nie. Die geweerskoot het die voëls verskrik in alle rigtings laat spat. Dié wat op die rotse gesit het, het blitsig opgestyg en dié wat reeds in die lug was, het hoër op die bloute ingeskiet. Hy het vervaard sy oorfone en ander send toerusting gegryp en seine aan die voëls begin stuur.
"Gevaar, gevaar," het hy in die verskillende voëls se terminologie oor en oor herhaal. Dit het hy opgevolg met die kort en kragtige bevel dat hulle moet aanval. Hy het nie die vaagste benul gehad wat hy van hulle verwag het of wat hulle veronderstel was om te doen nie! Tot sy absolute verstomming het die onderskeie soorte voëls, ook die arende, hulle in afsonderlike vliegformasies hergroepeer. Chippie was nog besig om die skouspel met oopmond aan te gaap, toe die kraaie in enkel formasie teen ’n groot spoed op die bosse af geduik het! Op dié wyse het hulle die kleins moontlike teiken vir die vuurwapens gelaat.
Hulle was nie net kragtige vlieërs nie, maar ook bedrewe jagters. So kon hulle met presisie en perfekte tydsberekening tussen bome en bosse induik en die kleinste diertjie met hulle sterk kloue van die grond af opraap. Daar was dus geen rede hoekom hulle nie ook mense met hulle skerp naels kon aanval en treiter nie. Chippie kon nie sien wat daar gebeur nie, maar uitroepe en ’n geskreeu het op die seebriesie aangedryf. Daar was ook die gekletter van handwapens!. Die kraaie het ’n paar keer op die vyand af geduik en dan weer teen hoë spoed die lug ingeskiet. In die proses is een van die kraaie deur ’n koeël getref. Hy het in ’n wolk van swart vere grondwaarts getuimel.
Die geveerde lugaanval het slegs ’n paar minute geduur, waarna die kraaie weer op groter hoogte gaan sirkel het. Chippie se hart het gebloei vir die kraai wat gesneuwel het en dit alles ter wille van sy eie selfsugtige belange. Dit het weer in die bosse stil geword en hy het gewonder wat om verder te doen. Hy het toe maar vir die voëls in die lugruim gevra waar die indringers was en wat hulle doen? Die antwoord was dat hulle nie te sien was nie en seker wegkruip. Die albatrosse het gesê dat hulle nader sou gaan om meer te sien.
Chippie het in spanning dopgehou hoe hulle laer en laer afdaal totdat hulle net bokant die bosse gesirkel het. Daar is egter nie op hulle geskiet nie. Nadat die albatrosse weer opgestyg het, het hulle laat weet dat die mense diep onder die bosse is en dat hulle bloed gesien en geruik het! So die kraaie het beslis kontak gemaak en skade aangerig. Chippie wou hulle so graag bedank, maar hulle sou nie weet wat dit beteken of wat hy probeer sê nie. Hy was nog besig om oor sy magteloosheid en sy voëlvriende se dapperheid te wroeg, toe daar weer ’n SMS op sy selfoon deurgekom het.
"Ons gaan nie langer met jou sukkel nie. ’n Chopper kom jou optel. Moet jou nie teen sit nie."
" Ha ha. Waar kry julle nogal so iets?"
"Ons speel nie spelletjies nie! Dit kom van ons moederskip."
"Nog ’n groter grap! Het julle ’n vloot nodig om my te ontvoer?"
"Los jou laboratorium en kyk nuus. Vier lande is saam met jou regering besig met vlootoefeninge buite julle gebiedswaters."
Chippie was by die lees daarvan lam van skok. Vir die eerste keer het hy besef dat die skurke vir niks sou stuit nie en boonop het hulle ook nog onbeperkte vermoëns tot hulle beskikking gehad. Hy het met ’n natgeswete handpalm oor sy droë lippe gevee. Terwyl hy desperaat probeer het om sy verwarde denke te orden, het hy reeds die kenmerkende dreuning van ’n helikopter gehoor! Dit was skaars ’n kilometer van die kuslyn weg en besig om laag onder die land se radar oor die see in te kom. Soos dit nader beweeg het, kon Chippie sien dat dit ’n enorme militêre helikopter was. ’n Mens gemaakte metaal voël wat bedoel was om dood en verwoesting te saai. ’n Oorlogsvoël waarteen die voëls van die hemel nie opgewasse was nie!
Vir die eerste keer in sy lewe as wetenskaplike het hy magteloos gestaan oor ’n situasie waarvoor hy geen antwoorde gehad het nie. Hy kon nêrens heen vlug nie en daar was geen plek waar hy vir sy vyande kon wegkruip nie! Paniekerig en beangs het hy sy oë na die hemelruim opgeslaan. Die voëls het nie meer in die rondte gesirkel nie, maar was besig om in ’n digte swerm formasie te konsolideer. Die kraaie was vooraan met die albatrosse, en ook ’n klompie arende, aan die flanke en aan die agterkant van die swerm.
Die helikopter het spoed verminder en stadig oor die land ingekom en Chippie se staanplek met ’n wye draai genader. Die terrein was te rotsagtig vir die tuig om te kon land. Hulle sou soldate moes laat afsak om hom op te hys. Hy het desperaat aan ’n rotspunt vasgeklou om nie deur die wind van die boonste rotorlemme van die krans afgewaai te word nie.
Skielik het hy met verbystering gesien dat die gekonsolideerde swerm voëls reg op die helikopter afduik. Alles het soos ’n aksie film reg voor Chippie oë afgespeel. Die loods het vervaard aan die helikopter se kontroles geruk en gepluk om die swerm te probeer ontduik, maar te vergeefs! Die voorste voëls het die tuig se perspeks ruite met snawels en kloue toetakel en die loods se uitsig is daardeur heeltemal versper. ’n Massa swart lywe en vere het soos ’n wolk om die helikopter saamgepak. Die loods het desperaat gepoog om die tuig te draai, sodat hy van die aanval kon wegbeweeg.
Met die draaislag het die agterste rotorlemme sommige van die voëls getref en opgekerf, sodat vere en bloed dwarsoor die helikopter gespat het. Die kontak met die swerm het egter die lemme gebuig en verfrommel. Sonder die stukrag van die stertrotor het die tuig buite beheer in die rondte begin tol. Die loods kon nogtans daarin geslaag om hoër op te styg deur slegs die boonste rotor te gebruik. In sy woeste gespook om die helikopter onder beheer te kry, het hy egter te na aan die steil krans aan die westekant gekom. Die lang rotorlemme het die klipwand met ’n hoë spoed getref en is heeltemal verpletter. Sonder enige oorblywende kragbron het die tuig met ’n slag op ’n groot rots te lande gekom, sywaarts gerol en toe oor die afgrond in die see afgestort. Die oorblywende voëls van die hemel het weer die blou lug in geklief en ’n groot stilte het oor die toneel van stofwolke, bloed, vere en die dood neergesak!
Chippie het geskok en verwese van agter ’n klip te voorskyn gekom en met bewende hande die voëls se bloed en vere van sy gesig afgevee. Hy het vir ’n wyle met sy kop tussen sy bene gaan sit om tot bedaring te kom. Hy het homself gedwing om logies oor sy situasie te dink. Die nuutste verwikkelinge het meegebring dat die kollig van homself af verskuif het. Die aandag sou onvermydelik gevestig wees op ’n onderduimse vennoot van sy regering, wat agteraf misdaad op die gasheerland bedryf het. Dié internasionale politieke insident was van baie groter belang as van ’n plaaslike wetenskaplike se voël navorsing.
Sy eerste optrede was dus om die polisie te skakel met die nuus van ’n vreemde helikopter wat langs die kus neergestort het. Met behulp van die presiese koördinate van die ongelukstoneel sou die plek in ’n baie kort tydjie van wetstoepassers en militêre personeel wemel. Sy agtervolgers in die bosse was dus vasgekeer tussen die see en die oprukkende veiligheidsmagte. Skielik het hulle rol van jagters verander na dié van prooi wat gejag word!
Al wat vir hom oorgebly het, was om ’n besluit oor sy navorsing te neem. Sy oë het weer na die hemelruim gedwaal, waar daar nog hier en daar van sy geveerde vriende gesirkel het. ’n Aantal het hulle lewe gegee om hom te beskerm. Daar was geen wyse waarop hy hulle daarvoor kon vergoed nie, maar hy kon hulle wel toekomstige ellendes spaar. Chippie het dus sonder enige verdere aarseling of versuim alle toepaslike data oor sy voëlnavorsing van sy skootrekenaar afgevee. Daarna het hy al die elektroniese apparatuur sorgvuldig met ’n klip flenters gekap en dit stukkie vir stukkie in die see gegooi.
Die wette van die natuur is aan die mens gegee om te respekteer en sinvol te gebruik en nie om dit vir selfsugtige gewin te misbruik nie!

.

  • up

    Steranys

    Boeiend en verbeeldingryk.

    1
    • up

      Bart Mozart

      Jy oortref jouself hier.Die verhaal het my enduit geboei. n Ongewone storie.

      1